New Orleans

City of New Orleans
Ville de La Nouvelle-Orléans

Kaart Wapen
Vlag
 Land Verenigde State
 Deelstaat Louisiana
 Parish (parogie) Orleans
 Koördinate 29°57′N 90°04′W / 29.950°N 90.067°W / 29.950; -90.067
 Gestig op 7 Mei 1718
 Geïnkorporeer op 17 Februarie 1805
 Oppervlakte:  
 - Totaal 907 vk km
 Hoogte bo seevlak -2-6 m
 Bevolking:  
 - Totaal (Stad en county 2020) 390 128[1]
 - Bevolkingsdigtheid 430,1/vk km
 - Metropolitaanse gebied (2013) 1 240 977
 Tydsone CST (UTC -6)
Somertyd: CDT (UTC -5)
 Klimaat  
 - Tipe Subtropiese klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 11 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 17 / 28 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1629,7 mm
 Burgemeester LaToya Cantrell (D)
 Amptelike Webwerf nola.gov

New Orleans (Frans: La Nouvelle-Orléans [la nuvɛlɔʁleɑ̃]) is die grootste stad in die VSA-deelstaat Louisiana met 'n bevolking van 378 715 in die stadsgebied en meer as 1,2 miljoen in die metropolitaanse gebied. In Engels word na sy bewoners as New Orleanians verwys.

New Orleans het 'n ryk en kleurvolle geskiedenis wat onlosmaaklik verbind is met sy unieke en strategies belangrike ligging net sowat 100 myl van die Mississippirivier se monding in die Golf van Meksiko. Sy hawe is al drie eeue lank die besigste aan die Amerikaanse Golfkus en het die belangstelling van Wes-Europa se groot seevarende moondhede – Spanje, Frankryk en Groot-Brittanje – gewek wat almal hul spore in New Orleans se kultuur en leefwyse gelaat het. Vandag word New Orleans nie soseer as 'n smeltkroes beskou nie, maar eerder as 'n Amerikaanse stad wat sy eie unieke kultuur en samelewing ontwikkel het. Dikwels word na die stad vanweë sy ontspanne leefstyl as Big Easy of, vanweë sy ligging aan die oosoewer van die Mississippi se wye rivierdraai, as Crescent City verwys; vir ander roep dit beelde op van 'n "Parys van die Suide" of van die "mees noordelike stad van die Karibiese See".

Gietysterbalkonne in die Franse Kwartier
Historiese geboue in Chartres Street kontrasteer met moderne wolkekrabbers. Die kantoortoring in die agtergrond is Place St. Charles
'n Woonstelgebou in die Franse Kwartier is na New Orleans se befaamde Voodoo-koningin Marie Laveau vernoem
Rev. Zombies Voodoo-winkel in Bourbon Street, Franse Kwartier
Satellietfoto van New Orleans en Lake Pontchartrain in Januarie 2020

Jean-Baptiste Le Moyne, die goewerneur van Frans-Louisiana, het aan die stad sy oorspronklike Franse naam Nouvelle Orléans of "Nieu-Orléans" gegee, ter ere van Philippe II, hertog van Orléans, wat tussen 1715 en 1723 as Franse regent namens Lodewyk XV geregeer het. Alhoewel al vroeg 'n reeks ekspedisies na die binneland onderneem is, is die huidige stadsgebied voor die goewerneur se amptelike stadstigting in 1718 byna uitsluitlik deur inheemse Indiane bewoon. Ná enkele dekades van ononderbroke heerskappy oor die gebied het Frankryk die seehawe in 'n reeks ooreenkomste aan Spanje afgestaan. Veertig jaar van Spaanse bewind het van New Orleans 'n florerende seehawe en handelspos tussen Meksiko en Kuba gemaak waartydens ook vrye burgers van nie-Europese afkoms hulle in die stad kon vestig.

Nadat 'n reeks verwoestende brande in die gebied gewoed het, het Spanje sy besitting in 1803 aan die Franse stigters terugverkoop wat dit op hulle beurt slegs twintig dae later met die sogenaamde Louisiana Purchase aan die jong Verenigde State oorhandig het.

Gedurende die eerste helfte van die 19de eeu was New Orleans die welvarendste stad in Amerika en die belangrikste uitvoerhawe vir Amerikaanse goedere wat hier na Europa, Suid-Amerika en die Karibiese Seegebied verskeep is. Selfs onder Amerikaanse administrasie was Frans nog tot in die 1830's die huistaal van die oorgrote meerderheid van die stadsbevolking. New Orleans se strategiese ligging en florerende ekonomie het in die vroeë 19de eeu Britse begeertes gewek en was die aanleiding vir die Brits-Amerikaanse Oorlog wat in 1812 uitgebreek het. Die Britse aanvallers is drie jaar later deur die Amerikaanse generaal Andrew Jackson verslaan.

In die volgende vier dekades het New Orleans tot Amerika se vernaamste uitvoerhawe vir katoen gegroei. Steeds meer stoombote het die plaaslike hawe aangedoen en reeds in 1835 'n jaarlikse omset van $35 miljoen verseker. Slegs vyf jaar later was New Orleans die vierde besigste seehawe ter wêreld. Die tweede helfte van die 19de eeu is deur ongekende tegnologiese en ekonomiese vooruitgang gekenmerk. 'n Moderne openbare vervoerstelsel met tremlyne het ontstaan, en danksy nuwe pomptegnologie kon uitgestrekte gebiede, wat benede seevlak geleë was, drooggelê en as woonbuurte vir die snel groeiende bevolking ontsluit word. Natuurrampe soos orkane was 'n konstante bedreiging vir die Golfmetropool, maar kon sy groei nie noemenswaardig belemmer nie.

Terwyl ander Amerikaanse metropole New Orleans gaandeweg as ekonomiese en finansiële spilpunte verbygesteek het, het die plaaslike kultuur 'n bloeitydperk beleef waarvan New Orleansse jazzmusiek een glanspunt geword het. Hierdie musiekstyl, wat in plaaslike kroeë en danssale gebore is, het sy oorsprong in die tradisionele musiek van slawe uit Afrika suid van die Sahara gehad. Hoe meer Europese klanke en Afrika-ritmes met mekaar versmelt het, hoe makliker het jazzmusiek uit sy oorspronklike ghetto van slawevergaderings en swart kerkmusiek uitgebreek om eers die Amerikaanse en later die internasionale musieklewe te verower.

Vandag is New Orleans 'n belangrike kulturele en nywerheidsentrum en 'n gesogte toeristebestemming. Sy hawe, wat die Mississippirivier met die Golf van Meksiko verbind, is die belangrikste uitvoerhawe van die suidelike VSA-state. Die grootskaalse oorstromings, wat die stad as gevolg van die orkaan Katrina op 29 Augustus 2005 getref het, het 'n groot gedeelte van New Orleans verwoes en talle menselewens geëis.

  1. World Population Review: New Orleans, Louisiana Population 2020. Besoek op 22 Junie 2020

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search